Cosatu wil land laat stilstaan - 5 Mar 2012 Dieburger.com - Die Burger

KAAPSTAD.–Die landwye staking Woensdag onder aanvoering van Cosatu kan Suid-Afrika tot R8,2miljard kos.

Skole kan ook erg ontwrig word deurdat onderwysers en leerlinge ook aan die staking gaan deelneem.

Volgens die vakverbond sal dit die grootste staking nóg in Suid-Afrika wees. Die vakbonde wat by Cosatu geaffilieer is, het altesaam sowat twee miljoen lede.

Die staking is daarop gemik om beswaar te maak teen arbeidsmakelaars en die instelling van ’n tolpadstelsel in Gauteng.

Mnr. Patrick Craven, Cosatu se nasionale woordvoerder, het gesê landwyd sal 32 optogte gehou word.

“Kaapstad en Johannesburg s’n sal die twee grootstes wees.”

Mnr. Tony Ehrenreich, Cosatu se Wes-Kaapse provinsiale sekretaris, het gesê net in Kaapstad kan tot 30000 mense staak.

Werkers in noodsaaklike dienste word van die stakingsoptrede uitgesluit. “Ander werkers, onder wie onderwysers, sal staak.”

Ehrenreich het by navraag gesê skoolkinders kan ook aan die optogte deelneem.

“Die kwessies wat ons raak, raak hulle ook. Daar is geen rede waarom hulle nie hoef saam te loop nie.”

Volgens hom lok Cosatu-stakings in Kaapstad gewoonlik sowat 20000 mense, maar met die steun van die ander groepe sal die getal Woensdag na verwagting heelwat groter wees.

In Kaapstad sal die optog in die Keisersgracht begin. Van daar sal gestap word via Darling-, Adderley-, Spin- en Pleinstraat tot by die parlement, waar die minister van arbeid die betogers se memorandum in ontvangs sal neem.

Cosatu word ondersteun deur verskeie burgerregtegroepe, waaronder die Black Sash en die Treatment Action Campaign (TAC).

Craven meen die aksie in Gauteng sal meer mense lok as in Kaapstad. “As die regering nie oor die twee kwessies wil toegee nie, sal daar in die toekoms verdere aksies wees.”

Mnr. Zwelinzima Vavi, hoofsekretaris van Cosatu, het vroeër aangedui daar is ’n moontlikheid van ’n tweede staking op 30 April, die datum waarop die tolpadstelsel in Gauteng in werking tree.

Mnr. Mike Schüssler, ekonoom van Economists.co.za, het gesê ’n staking wat die hele land verlam en waar alles gesluit is, sal die ekonomie nagenoeg R8,2 miljard kos.

“Aangesien ons nie alles toesluit nie, soos vulstasies en minstens ’n paar winkels, sal die koste waarskynlik minder wees.”

Schüssler het gesê die tolpadstelsel sal egter ook ’n impak op die ekonomie hê.

Mnr. Ian Ollis, DA-LP, het gesê dis moeilik vir sy party om Woensdag saam te betoog.

“Cosatu staak oor twee kwessies, naamlik die tolpad-kwessie, waaroor die DA met Cosatu saamstem, en arbeidsmakelaars, waaroor ons nie met Cosatu saamstem nie.

“Deur dié twee in een staking saam te sit, maak Cosatu dit moeilik vir ons om saam te betoog.”

Die DA is volgens Ollis wel besig met stappe teen die Gautengse tolstelsel. Opposisiepartye en belangegroepe het verlede week aangekondig hulle gaan ’n dringende hofbevel vra om die tolstelsel te probeer stuit.